Die agtergrond van ons Boeredanse

Waar kom die tradisionele Afrikaanse volksdanse vandaan?

Tradisionele danse (volksdanse) het sy oorsprong uit die mense van die nasie of streek.

Alle Suid-Afrikaanse volksdanse, met uitsondering van die Vastrap en die Riel is afkomstig van oorsee. Al het die danse oorsee ontstaan, het hulle hier ingeburger geraak en ‘n besondere karakter aangeneem as gevolg van die kenmerkende eienskappe van die boeremusiek.

Die term boeredans is ‘n kollektiewe term omdat dit na die kenmerkende dansvorme verwys wat aan die betrokke boeremusiekwysies gekoppel word.

Die name van die tradisionele volksdanse kom vandag as ‘n aardigheid in die Afrikaanse taal voor. Tot ongeveer 1940 was bykans geen gesellige plaasdansparty denkbaar sonder die wals, seties, polka, masurka, vastrap, paddika, kadriel, lansers en kotiljons nie. Hiervan was die wals sekerlik die gewildste.

Hierdie danse is nie sommer net sameflansing van bewegings nie, hulle het elk ‘n ryke tradisie. Engelse en Europese wortels was daar beslis, maar die Afrikaner het sy eie stempel daarop afgedruk en dit volkseie gemaak.

Hierdie kultuurdanse het ‘n besondere behoefte in die gemeenskap vervul, ten spyte daarvan dat die kerk aangevoer het dat dans sonde is.

Wanneer boerdery-aktiwiteite stilgestaan het is daar gedans. ‘n Verrassingspartytjie is sonder veel moeite georganiseer wat behels het dat die jongklomp met eetgoed sommer by ‘n plaashuis aankom, aanklop en staatgemaak het op ‘n vriendelike ontvangs. Dit het hulle natuurlik altyd gekry, al het die gasheer en –vrou al geslaap.

En sommer vinnig het die vrolike klanke van die musiekinstrumente soos die konsertina, banjo, mondfluitjie, kitaar en viool die lug in geklink en is daar gedans, dikwels tot dagbreek.

In sommige distrikte het ‘n spesifieke “dansplaas” in hierdie behoefte voorsien. Sodra dit net lyk na reën het almal opgetrek na hierdie plaas, voordat die spruite te vol was en hulle vasgekeer kon word (dis nou aan die “verkeerde” kant van die spruit).

Die waarde van die danse is duidelik sigbaar in die feit dat geen moeite ontsien is om enige plaasplesier by te woon nie. Soms is daar tot 12 myl afgelê – al singende – en dikwels het hulle dieselfde nag weer dieselfde roete huistoe geneem.

Die plek waar gedans is

Daar is op `n verskeidenheid van vloeroppervlaktes gedans: grond, klei, vasgestampte miershoop, sement, beesmis, plank, verpulpte koerantpapier of perskepit. Misvloere was maar die algemeenste – en die stowwerigste. Dit was hier waar die spreekwoord “balke toe” geskep is – dit was ‘n teken dat stofdempers op die vloer gestrooi of gesprinkel moes word. Sout, blare, gebruikte teeblare of water is vir die doel gebruik.

Om die vloer lekker glad te maak, is semels, mieliemeel, mielieblom, poeier (op plankvloere), seepvlokkies, waks of gesnipperde kersvet daarop gestrooi. Soms het kwaaijongens ook hulle kans gewaag en fyn gesnyde perdestert op die vloer gestrooi – saam met die stof wat opslaan het dit ‘n gejeuk en gebrand afgegee wat later tot groot konsternasie gelei het.

Dansplek was nooit ‘n probleem nie – plaashuis, buitegeboue, twakhuise, grasperke, dorsvloere, wapad of selfs die pan was voldoende. In uitsonderlike gevalle is die dorpsaal gehuur – die mans het ‘n sjieling (10c) betaal om die onkoste van die saalligte te dek en die dames het vir die verversings gesorg. ‘n Beker en emmer drinkwater is op die verhoog gesit om die dors te help les. Soms is tente opgeslaan of sommer bo-op bokseile gedans.

Om dit ‘n lekker atmosfeer te gee, is lanterns, kerse of paraffienlampe aan die balke of teen die mure van die waenhuis/skuur gesit en sitplek was somtyds sommer sakke mielies, strooibale of kissies .

Hoofbron:

BURDEN, M 1985 Die herkoms en ontwikkeling van die Afrikaanse volksdans (ongepubliseerde MA-tesis, Universiteit van Stellenbosch)

Met groot waardering vir hulp per epos en/of telefonies van:

Dr Matilda Burden, Universiteit van Stellenbosch, Suid Afrika

Prof Edith Katzenellenbogen, emeritus professor, Universiteit van Stellenbosch, Suid Afrika 

Terug Terug na bo